February 2015 Outing

February 2015: Some of the club members went to Franschhoek to capture the night life. Congratulations to Pieter Burger for taking the winning photo of the evening.

Maritha se woorde:

Baie dankie aan almal wat ons nagfoto uitstappie na Franschhoek meegemaak het. Te oordeel aan die inskrywings, was dit ‘n groot sukses.

Ons het mekaar by die pizzaplek gekry en eers rustig saam geëet en gekuier (en wyn gedrink – sommiges van ons) Dit was ‘n wonderlike geleentheid om nuwe lede beter te leer ken en lekker te gesels met almal. Ons is spyt oor die lede wat eers later by ons kon aansluit en dus die eerste lekker gemis het!

Vanaf die eetplek is ons na die monument. Omdat Klippies nie daaraan gedink het om vooraf te reël nie, was ons verplig om oor die muurtjie (gelukkig laag genoeg) te klim om nader te kom. Ek het so bietjie oor my skouer bly loer in die afwagting dat sekuriteit my aan my ore gaan kom gryp! Ons het om die monument beweeg in ‘n poging om ‘n unieke hoek te vind vir ‘n kreatiewe foto.

Nadat ons vanuit al die moontlike hoeke fotos geneem het, is ons straat af opsoek na nuwe onderwerpe. Dit is goed om die fotos te bekyk en te sien wat die ander raakgesien het. Laat mens met nuwe oë kyk en help om jou denke kreatief te stimuleer. Op die ou end het net ek, Jacques en Jan oorgebly vir ‘n laaste koffietjie en nabetragting.

Baie geluk aan Pieter Burger met sy wenfoto. Die beoordeelaar het gesê die standaard was hoog en daar was ‘n paar fotos wat in die ry gestaan het om moontlik te wen. Pieter se foto is gekies agv sy komposisie. Die monument is baie simetries en so was Pieter se foto ook. Ons sal jou dophou Pieter, dis tyd om ernstig te begin inskryf!! Die prys is 2 bottels wyn van Rheebokskloof. Dit is deel van die wyn wat ons gekry het vir die fotos wat geneem is vir die Waterblommetjiefees, so tegnies is dit nie ‘n donasie nie. Maar dankie aan Rheebokskloof vir die ruiltransaksie. En weereens dankie aan Johan Joubert wat dit vir ons moontlik maak om pryse te kan gee en vir die fotorame wat deel maak van die prys!

Dit is dan my laaste verslag oor die laaste uitstappie wat ek gereël het. Tielman sal hierdie jaar aan stuur van die uitstappies staan. Die uitstappies kan nie slaag sonder die lede se samewerking nie, so kom ondersteun sy uitstappies. Dis lekker en leersaam. Dankie Tielman vir jou bereidwilligheid om oor te neem by my. Mag dit vir jou net so lekker wees om te doen soos wat dit vir my was.

Groete
Maritha